Ernst Roets: ’n Nuwe Bedeling vir Suid-Afrika
- Moira-Marie Kloppers
- Aug 27
- 3 min read
By Pretoria Sakekamer se netwerkgeleentheid op 20 Augustus het dr. Ernst Roets, bekende Afrikaner-aktivis, skrywer en filmmaker, sy visie vir ’n meer volhoubare politieke bedeling in Suid-Afrika gedeel. Roets is die uitvoerende direkteur van die pasgestigte Lex Libertas, ’n organisasie wat deur navorsing, strategie en internasionale druk poog om ’n stelsel van desentralisering en selfbestuur vir Suid-Afrikaanse gemeenskappe te bevorder.
’n Land in krisis
Volgens Roets verkeer Suid-Afrika in ’n veelvlakkige krisis wat op drie pilare staan: ’n destruktiewe beleidsraamwerk, algemene staatsverval en die toenemende teikening van minderhede. Hy verwys na wetgewing soos onteiening sonder vergoeding, BEE, BELA en die NHI as wette wat die ekonomie en gemeenskappe ondermyn. Intussen verbrokkel die staat se kernfunksies – van die verval in die polisie en die stygende misdaadvlakke tot die krag- en waterkrisis. “Meer as 40% van drinkbare water lek weg, 46% is gekontamineer en byna 70% van ons wateraanlegte is op die rand van ineenstorting,” waarsku hy.
Maar hierdie is, volgens Roets, net simptome van ’n dieper probleem: die politieke stelsel van Suid-Afrika spreek eenvoudig nie tot die werklikheid van ’n groot, diverse en arm land nie. Waar demokrasie goed kan funksioneer in homogene, welvarende lande, dryf dit in ’n land soos Suid-Afrika al hoe meer burgers in armoede – omdat die stelsel uiteindelik draai om stemme wat gekoop word met beloftes van maatskaplike toelaes.
’n Politieke stelsel wat nie werk nie
Roets wys daarop dat Suid-Afrika, anders as die VSA waarop ons Grondwet deels geskoei is, nie ’n gedeelde geskiedenis, kultuur of filosofie het nie. Hierdie verskille lei tot botsende interpretasies van die Grondwet en skep ’n klimaat van voortdurende spanning. Die onluste in KwaZulu-Natal het volgens hom nie uit die niet ontstaan nie, maar was die voorspelbare gevolg van ’n disfunksionele stelsel – en soortgelyke uitbarstings kan weer gebeur.
Die visie van Lex Libertas
Lex Libertas het uit die sogenaamde Pionier-inisiatief ontstaan en is die kombinasie van ’n dinkskrum, navorsingsinstituut en drukgroep. Die naam beteken “Wet en Vryheid” en simboliseer die kern van sy missie: om ’n volhoubare politieke bedeling vir Suid-Afrika se gemeenskappe te bou. Hierdie visie sluit die idee van gedesentraliseerde mag en outonome gemeenskappe in, waar kulturele en territoriale selfbestuur moontlikhede bied.
Roets wys daarop dat die keuse nie net tussen die huidige bedeling en apartheid lê nie. “Daar is wêreldwyd talle politieke modelle wat uniek aangepas is vir hul gemeenskappe. Ons moet vorentoe kyk, nie terug nie,” sê hy.
Praktiese strategieë
Vir Lex Libertas lê die pad vorentoe daarin om momentum te bou:
Skep de facto werklikhede: as die staat nie sekuriteit kan bied nie, ontwikkel gemeenskappe privaat strukture wat dit doen.
Doen navorsing: ondersoek moontlike modelle en toets die haalbaarheid daarvan.
Werf plaaslike steun: Afrikaners is reeds ontvanklik, maar ander gemeenskappe moet ook betrek word.
Werf internasionale steun: erkenning, druk en finansiële bystand uit die buiteland is noodsaaklik.
Volgens hom hoef die ANC nie oortuig te word nie – groot politieke verandering geskied selde met die toestemming van die regerende party. Die fokus moet eerder wees om steun en druk binne en buite die land op te bou.
Uitdagings en geleenthede
Lex Libertas beskik oor ’n sterk internasionale netwerk in die politiek en media, maar is nog ’n jong organisasie wat finansieel moet groei. Daarom roep Roets op vir die betrokkenheid van sakelui en entrepreneurs om die beweging te versterk. “Ons leef in ’n tyd van chaos, maar ook van geleenthede. Die sleutel is om die oop deure raak te sien en dit daadwerklik te benut,” sê hy.
Met sy passievolle boodskap het Roets die gehoor by die Pretoria Sakekamer herinner dat die soeke na ’n beter bedeling nie net ’n intellektuele oefening is nie, maar ’n saak van oorlewing en toekomsbou. Suid-Afrika se probleme is diep en kompleks, maar volgens hom lê die antwoord nie in sentralisering nie – dit lê in gemeenskappe wat weer beheer oor hul eie toekoms neem.
Meer inligting oor Lex Libertas se werk en visie is beskikbaar by www.lexlibertas.org



Comments